News

SA se beste entrepreneurs aangekondig

SA se beste entrepreneurs aangekondig

Na ‘n moordende proses en assessering van 15 suksesvolle finaliste, het Suid Afrika se voorste jaarlikse entrepreneurskompetisie op Woensdag 6 September in Johannesburg ses wenners aangekondig.

Vanjaar het ‘n Wes-Kapenaar, Willem van der Merwe, eienaar van Africa Biomass Company, weggestap met die gesogte algehele title van Entrepreneur van die Jaar.

Die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie word elke jaar deur Sanlam en Business Partners aangebied en het ten doel om aan Suid-Afrikaanse klein en medium sakeondernemings erkenning te gee, hulle te bevoordeel, te bemagtig en te inspireer om ‘n sukses in die sakewêreld te wees.

Christo Botes, woordvoerder vir die kompetisie, het by dié geleentheid gesê dit was nie ‘n maklike taak om slegs een algehele wenner te kies nie, want die standaard van vanjaar se finaliste was so hoog. Van der Merwe het egter uitgestaan vanweë die rou ondernemingsgees van sy onderneming.

“Africa Biomass Company (ABC) spesialiseer in boomsloping, houtafsplitsing en houtherwinning. Deur hierdie onderneming op die been te bring het Willem nie net ‘n suksesvolle onderneming geskep uit die verwydering van bome wat grondeienaars in elk geval nie wou hê nie, hy het ook ‘n hele nuwe bedryf in Suid-Afrika geskep. Hy het Suid-Afrikaners bekendgestel aan die splinternuwe konsep van houtherwinning,” het Botes gesê.

Wenners in vyf kategorieë

Opkomende Entrepreneur van die Jaar: Sizwe Nzima en Siraaj Adams, eienaars van Iyeza Health. Wat eers begin het as ‘n maatskappy wat met fietse kroniese medikasie vanaf gesondheidsklinieke na pasiënte se huise in Khayelitsha geneem het, het uitgebrei tot ‘n gesondheidslogistieke onderneming met ‘n wye reeks vermoëns. Kry meer inligting by www.iyezahealth.co.za.

Klein Sake-entrepreneur van die Jaar: Itumeleng Phake, stigter en eienaar van Zenzele Fitness Group. Dié groep is ‘n dinamiese fiksheid- en welstandsonderneming wat gesondheid en fiksheid meer toeganklik maak vir Suid-Afrikaners in die middel- en laerinkomstegroepe. Kry meer inligting by www.zenzelefitness.co.za.

Medium Sake-entrepreneur van die Jaar: Nomfundo Mcoyi, stigter en eienaar van Icebolethu Group. Icebolethu Funerals was ‘n begrafnisondernemer wat in 2009 gestig is met slegs vyf personeellede. Dit het van krag tot krag gegaan en is nou ‘n prominente begrafnisdienskonglomeraat met ‘n internasionale voetspoor en meer as 300 werknemers. Kry meer inligting by www.icebolethugroup.co.za

Werkskepper van die Jaar: Siphiwe Ngcobo, eienaar en stigter van iLawu Hospitality Group. Dié groep is in 2009 gestig as ‘n nederige vyfslaapkamer-bed-en-ontbyt. Sedertien het dit uitgebrei na een van die bekendste gasvryheid- en spyseniershandelsmerke in KwaZulu-Natal wat werk verskaf aan verskeie mense in die gemeenskap. Kry meer inligting by www.ilawugroup.co.za

Innoveerder van die Jaar: Mpondumo Doubada, stigter en eienaar van Pimp my Book. Pimp My Book, ‘n snelgroeiende kettingwinkel op kampusse oor die hele land, is in 2006 begin uit die eenvoudige konsep van handboeke koop en verkoop sodat dit aansienlik meer bekostigbaar vir studente kon wees. Gaan kyk bietjie by www.pimpmybook.co.za in wat dit ontaard het.

Dié kompetisie is vanjaar die 29ste keer aangebied en het pryse ter waarde van R2 miljoen weggegee. Elk van die vyf kategoriewenners het R60 000 ontvang en Willem het R160 000 ontvang om sy onderneming mee uit te brei.

Buiten hierdie kontantpryse, sê Botes, gaan elke wenner ook waardevolle mentorskapondersteuning ontvang, blootgestel word aan verskeie netwerkgeleenthede en daarmee saam die verwante bemarkings- en nasionale mediablootstelling wat hulle nodig het om hul onderneming selfs meer suksesvol te maak.

“Vorige wenners het ook ander prominente nasionale en internasionale toekennings ontvang en waardevolle vennootskappe aangegaan danksy hul sukses in hierdie kompetisie.”

Besoek gerus www.eoy.co.za vir meer inligting.

Oorspronklik gepubliseer: Burger (Kaap), Landbou op Vrydag, 28 September 2017